Persverklaring: NGK Dagbestuur oor Genl Johan van der Merwe se Memorandum


In ’n memorandum vanaf genl Johan van der Merwe, gewese polisiekommissaris, aan die dagbestuur van die moderamen van die NG Kerk se algemene sinode, beweer hy dat die Belydenis van Belhar in die 1980’s gehelp het “om die geweld en terreur, asook kerkleiers se betrokkenheid daarby, te regverdig”. In reaksie hierop sê die dagbestuur van die NG Kerk se moderamen dat hulle graag die memorandum met Van der Merwe en sy kollegas wil bespreek. Sien ook by www.ngkerk.org.za hieroor, asook die berig in Beeld van 1 Febr 2012 by http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Belhar-help-terros-in-80s-20120201


NGK Dagbestuur Van Moderamen: Verklaring In Reaksie Op Genl Johan Van Der Merwe Se Memorandum

1. Die Dagbestuur van die Moderamen neem kennis van die memorandum en sal mettertyd volledig daarop antwoord. Die proses rondom die besluite van die AS beteken dat ons graag gesprek met mekaar voer en daarom sal die Moderamen Genl van der Merwe en van sy kollegas oor die saak wil ontmoet.

2. Die memorandum sal ook die aandag kry van die taakspan van die Moderamen wat ons help met die studie van en prosesse ten opsigte van die Belydenis van Belhar.

3. Ons wys intussen vir Genl van der Merwe op die Algemene Sinode se besluit oor die beoogde hantering van die Belydenis van Belhar binne die belydenisgrondslag van die NG Kerk en is oortuig dat die besluit van die AS van sy versoeke sal kan ondervang.

4. Die Dagbestuur van die Moderamen is bewus dat daar lidmate is wat die historiese perspektiewe in die memorandum deel . Ons vertrou dat 'n proses van onderskeiding en soeke na die wil van die Here ons saam tot 'n bevredigende antwoord sal bring.

Dr Kobus Gerber - NGK Algemene Sekretaris

2 Februarie 2012