Sondag 12 Februarie is geoormerk as Biddag vir Opvoeding en Onderwys


Die skooljaar van 2012 het reeds gevorder en die euforie rondom die 2011 matriekuitslae van ’n 70% slaagsyfer is byna vergete. Dit was ‘n reuse prestasie teen die agtergrond van leeromstandighede en die kwaliteit van onderrig, en hulle wat kon uitstyg, verdien gelukwensing. Niemand hou daarvan om prestasies gering te skat nie, maar die breër prentjie lyk steeds nie goed vir die onderwys nie.


Die feit is dat die peil van ’n eksamen baie belangriker as die slaagsyfer is. Dit gaan alles om die gehalte van die matrieksertifikaat. Die peil van die matriekeksamen is vir die onderwysstelsel en die land van kardinale belang. Met die aanbreek van ‘n nuwe akademiese jaar word ‘n vorige jaar se uitslae in perspektief geplaas. Die lakmoestoets is telkens hoe hierdie jongmense by tersiêre inrigtings vaar en hoeveel van hulle suksesvol tot die arbeidsmark kan toetree.


Universiteitsdosente kla jaar vir jaar, oorbruggingskursusse ten spyt, dat hulle sukkel om student op peil te kry. Dosente is onder druk is om ‘n goeie slaagsyfer te behaal. Die gevolg is dat Suid-Afrikaanse studente ver tekort skiet wat universiteitsgereedheid betref teenoor studente uit verskeie Afrikalande, waaronder Zimbabwe. Hierdie jaar sal geen uitsondering wees nie.


Dit gaan nie net om universiteitsgereedheid nie. Adv Paul Hoffman van die FW de Klerkstigting se sentrum vir grondwetlike regte het bevind net een uit 29 matrikulante is funksioneel geletterd. Met funksioneel geletterd word bedoel – die vermoë om die geletterdheid in die werksplek en die alledaagse lewe te kan aanwend. Die feit is dat die vereistes om te slaag besonder laag is – ‘n suksesvolle kandidaat kan vir die helfte van sy vakke minder as ‘n derde van die werk geken het om te slaag. Alhoewel ‘n kandidaat dalk geslaag het, maak sulke kwalifikasies hom nie aantreklik vir die arbeidsektor nie. Twee uit elke vyf volwasse Suid-Afrikaners het nie werk nie . Die bevolkingsyfers toon duidelik dat die aantal jong mense tussen 16 en 35 wat nie oor die vaardighede beskik wat ons arbeidsmark verlang nie, al hoe meer word . Minder as 40% van matrikulante wat die arbeidsmark direk ná matriek gaan betree, sal werk kry. Die res sal waarskynlik deel van die donker werkloosheidstatistieke in die land word.


Die gehalte van die matrieksertifikaat word volgens mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, ook bepaal deur die getal leerlinge wat wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ekonomie en die tegnologie-vakke geslaag het, asook die gemiddelde persentasie wat hulle behaal in die vakke. Die lae slaagsyfer is onrusbarend, terwyl die getal suksesvolle kandidate jaar ná jaar skerp afneem. Die slaagsyfer in vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe wat juis tot indiensneembaarheid bydra, is vergelykbaar swak. Beroepe in ’n mediese, ingenieurs-, inligtingstegnologie-, finansiële en tegniese rigting is veral gesog weens tekorte. Hierdie beroepe is broodnodig om die ekonomiese groei in ‘n land in stand te hou en te verhoog.


’n Ander deurslaggewende syfer is die deurvloeisyfer – die vergelyking tussen die getal graad 1’s wat 12 jaar gelede met hul skoolopleiding begin het en dit uiteindelik voltooi. Dié syfer vir die totale onderwysstelsel is taamlik beroerd: Die afgelope drie jaar het net tussen ’n kwart en ’n derde van graad 1’s uiteindelik hul skoolloopbaan voltooi

Daar sou nog verder geborduur kon word op die donker prentjie wat tot so ver geskets is. Feit is dat die onderwys in vele opsigte absoluut die voorbidding en ondersteuning van die kerk vereis. As vennoot saam met die skool en die ouers moet die kerk haar onvermoeid beywer om die onderwys so goed as wat sy kan te dien . Om hierdie rede is die 12de Februarie van uiterste belang. Dit is ‘n geleentheid wat elke gemeente ernstig moet opneem. Die biddag vir onderwys en opleiding bied die geleentheid vir die kerk om haar solidariteit en waardering met die onderwys en sy uitdagings te toon.


Die inkleding van hierdie dag kan op verskeie maniere gedoen word. Wenke deur gemeentes verskaf, sluit onder meer in:

Nooi plaaslike onderwysers, skoolhoofde na die spesifieke erediens. Doen vir hulle voorbidding tydens die liturgie. Sing hulle ‘n seënbede toe. Besoek die plaaslike skole, nooi ander leraars saam, neem iets wat tydens pouse saam in die personeelkamer geniet kan word, saam. Gee die leraars geleentheid om vir die personeel voorbidding te doen.

Bied hulp en ondersteuning aan, vra waar daar behoeftes is waarmee die kerk kan ondersteun. Dit kan verskeie vorme aanneem: fasiliteite, mannekrag, kundigheid, hulp met kinders in die na-skool (bv. hulp met huiswerk ens), voedselprojek vir minderbevoorregte kinders, berading, ekstra klasse in wiskunde, wetenskap ens. Die verslag oor die onderwys wat by die Algemene Sinode van 2011 gedien het, noem die onderwys as die kerk se poort na gemeenskapsbetrokkenheid. Onderwys bied uitdagings en geleenthede vir die gemeente wat missionêr gerig wil wees. Hanteer die verslag in gemeenteverband en ondersoek die moontlikheid van betrokkenheid by skole en die onderwys in die algemeen.


Sake waarvoor voorbidding gedoen kan word:

Die ministers van Onderwys, plaaslike onderwys-strukture.

Dankbaarheid vir uitstekende skoolhoofde en onderwysers, dosente, ouers en leerders.

Plaaslike skole, skoolhoofde, beheerliggame, onderwysers, ouers en leerders.

Die rol wat organisasies soos SAOU en Fedsas speel om gehalte onderrig te verseker.

‘n Fokus vir eie betrokkenheid.

Voorbidding vir werklose jongmense

Voorbidding vir Beheerraadverkiesings wat eindig op 31 Maart.

Spesiale aandag moet deur gemeentes gegee word aan die verkiesing van nuwe beheerrade. In die verband is daar ook deur die verskillende sinodale