Die Registrasie van Huwelike by die Departement van Binnelandse Sake

22 Oktober 2010


Beste kollegas


Ek wil baie graag heel aan die begin vir julle baie dankie sê vir julle geduld en vriendelikheid met hierdie proses. Ek weet die geduld is/was nie altyd daar nie – so ook nie die vriendelikheid nie - ’n mens moet somtyds na jou tande soek om op te byt. Maar, dit is nou eenmaal waar ons is met hierdie saak.


Ek vra ook weer dat ons almal sal onthou waar die hele ding begin het: die ontdekking dat sommige huwelike wat ons gedink het wel geregistreer is, al die tyd toe nie was nie. Iewers het die dokumente verlore geraak. Dis toe dat ons uitgevind het, die Departement van Binnelandse Sake (DBS) aanvaar

nie meer geposte dokumente nie – juis omdat hulle nie die posdiens vertrou nie. Van toe af het ons keer op keer met senior beamptes van die DBS vergader om die mees aanvaarbare ooreenkoms vir predikante (binne hulle wetlike raamwerk en vereistes) te beding.


Die probleem was boonop dat hulle kommunikasie met die verskillende streke, asook uiteindelik hulle plaaslike kantore (waar ons as huweliksbevestigers onderskeidelik geregistreer is en by wie ons besigheid doen), dikwels ontoereikend was. Landwyd-gesproke was daar 'n Babelse verwarring. Op een plek was die vereistes so, op 'n ander plek sus. Dit het geweldige uitdagings aan ons (kerklike) kommunikasie gestel – en die gemoedere het somtyds effe van die grond af gelig!


Na ons jongste gesprekke met mnr Jimmy Malemela (adj direkteur van die DBS) het hy persoonlik sy kantore begin besoek en ander gebel om hulle duideliker instruksies te gee. Ons het ons groot waardering namens die kerk teenoor hom uitgespreek. Hy doen regtig sy bes in 'n baie moeilike en

uitdagende situasie – naamlik om 'n staatsdepartement bekend (berug) vir sy korrupsie en ondoeltreffendheid, om te draai tot betroubare dienslewering.


Die jongste stand van sake lyk so:

1. Uit die gegewens tot ons beskikking is dit duidelik dat bykans elke streekkantoor van die DBS sy eie interne probleme het met die interpretasie van opdragte en daarom reëlings oor huweliksregistrasies kan hê wat van mekaar verskil. Sommige van hulle moet ook unieke aanpassings maak weens, onder andere, kapasiteitsprobleme.


2. Ons as huweliksbevestigers gaan onsself regtig baie help deur daarna te strewe om ’n positiewe verhouding met die personeel van die plaaslike DBS-kantoor op te bou. As dinge gespanne is, versoek 'n gesprek met die betrokke verantwoordelike amptenaar en kyk of daar nie tot 'n aanvaarbare vergelyk gekom kan word nie. In ons nuwe staatsbedeling is dit meer as voorheen nodig dat ons op plaaslike vlak sover moontlik goeie verhoudinge sal bou met die owerheid daar.


3. Die Sentrum vir Kommunikasie (ons) het beperkte mandaat. Ons onderhandel slegs namens die kerke. Ek het nie die jurisdiksie om aan te dring op beter opleiding vir DBS-amptenare of om uitsprake oor DBS-amptenare se implementering van hulle interne prosesse te maak nie. Ons werk van ons kant af hard om ’n gesonde verhouding met alle DBS-kantore te handhaaf en kan bevestig dat ons baie goeie samewerking van die DBS-hoofkantoor in Pretoria ontvang.


4. Hier volg die algemene reëls volgens die nuutste inligting tot ons beskikking: 4.1 Hoewel huweliksbevestigers steeds hulle ou huweliksregisters mag gebruik totdat dit op is, word daar nou drie (3) stelle ID-foto’s (swart en wit/gekleurd en volgens die normale formaat van ID-foto’s), sowel as drie (3) stelle vingerafdrukke (linker-duimafdruk) van beide die bruid en die bruidegom vereis vir alle huwelike wat bevestig word. In die nuwe register is daar aangeduide spasies daarvoor.


In die ou register word dit direk langs die spasie vir die bruid en bruidegom se handtekeninge aangebring. Vanselfsprekend die bruid s'n by haar handtekening en die bruidegom langs syne. Spesiale duur toerusting is nie hiervoor nodig nie: ’n ink-kussinkie en swart ink is voldoende om ’n duidelik sigbare duimafdruk te verskaf en kan by Waltons of selfs CNA gekoop word. Die DBS het begrip daarvoor dat predikante wat as huweliksbevestigers optree, nie noodwendig almal opleiding hierin ondergaan het nie. Weens praktiese implikasies (oa die ink aan die vingers) sou ’n mens dit kon oorweeg om die neem van die duimafdrukke tydens die finale huweliksgesprek vooraf af te handel.


4.2 ’n Stel foto’s word bo-aan elkeen van die drie (3) bladsye van die huweliksregister vasgekram – nie gegom nie! Gom is nie verkieslik nie, aangesien dit dikwels loskom en foto’s dan verlore mag raak, of die registervorm beskadig word met die losmaak/afhaal daarvan.


4.3 In verband met die volgende reëling is daar dikwels verwarring by sommige kantore. Ons moet mekaar help. Die reëling waarop ooreengekom is (en tans met erns en moeite deur mnr Malemela aan sy streekskantore gekommunikeer word), is die volgende: Die oorspronklike blad word by die DBS ingegee; die eerste kopie (tweede blad) word aan die huwelikspaar gegee as bewys van die huwelik en die derde blad bly in die huweliksbevestiger se register vir sy verdere verwysing. Dit geld vir ou sowel as nuwe registerboeke. Dit mag dalk net spanning met inhandiging verlig, asook die taak van die DBS baie vergemaklik, indien die huweliksbevestiger ’n fotostaat van die eerste blad vir die huwelikspaar gee (dus na die huwelikssluiting pos), sodat daar nie onnodige woordewisseling met inhandiging hoef plaas te vind nie, maar ook sodat die streekkantoor nie eers vir hulle eie rekords ook nog so ’n afskrif moet maak voordat die oorspronklike na Pretoria gestuur word nie.


4.4 Ten einde bedrog te probeer beperk, mag dit moontlik gebeur dat huweliksbevestigers se eie vingerafdrukke voortaan gekontroleer word teen die databasis van die DBS. Dit beteken dat die vingerafdrukke geverifieer word en indien daar geen rekord hiervan op die databasis is nie, word duimafdrukke geneem ter wille van die volledige rekord van die huweliksbevestiger.


4.5 Sou dit gebeur dat ’n huweliksbevestiger nie persoonlik sy registrasies kan behartig nie, moet hy/sy ’n skriftelike toestemmingsbrief aan ’n verantwoordelike persoon as derde party verskaf. Ons voorstel sou wees dat sodanige brief in Engels moet wees, maar dit hang weereens af van die betrokke streekkantoor se omstandighede.


4.6 Hoewel daar probeer word om huweliksbevestigers nie onnodig lank in rye te laat wag nie, speel die grootte en kapasiteit van die DBS-kantoor en die aantal huweliksbevestigers wat daar geregistreer is, onder meer ’n rol hierin. Dit is verder ook so dat die DBS-amptenare sommige tye van die dag self besig is met die bevestiging van huwelike. Ook hiervoor kan ons probeer begrip toon en by die amptenare self uitvind watter tydsgleuf en dag hulle voorstel vir die minste ontwrigting.


4.7 By sommige DBS-kantore word die afgelope tyd skofte gewerk in ’n poging om deur middel van langer ure beter diens te lewer. So weet ons van kantore wat gedurende die week soggens vanaf 07:00 tot smiddae om 17:00 oop is, terwyl hulle ook op Saterdagoggende oop is.


4.8 Soos reeds vermeld (en soos in die meeste organisasies), is kommunikasie binne die DBS soms ’n uitdaging. Dit bring mee dat nie alle streekkantore oor die land heen gelyktydig ingelig is oor die reëlings waaroor met die hoofkantoor in Pretoria ooreengekom is nie. Dit mag goed wees indien ons hiervoor begrip probeer toon.


5. Ons herinner weereens vriendelik daaraan dat die Sentrum vir Kommunikasie slegs as tussenganger tussen die Departement van Binnelandse Sake (DBS) en huweliksbevestigers optree – ons is nie verantwoordelik vir hoe die DBS die registrasie van huwelike hanteer nie. Onthou asseblief dat die Sentrum se betrokkenheid by hierdie proses ontstaan het toe ons deur 'n gemeente genader is om hulp met registrasies wat per pos ingedien is, maar weggeraak het.


Nogmaals baie dankie vir almal se geduld ten opsigte van hierdie saak. Ons hou julle op die hoogte van enige verdere verwikkelinge in hierdie verband.


Vriendelike groete


Dr Ben du Toit

Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap

Tel: 021 957 7196; Faks: 021 957 7197

Sel: 0823 328 700

bendutoit@kaapkerk.co.za

Formaat van egskeidingsbevele

I. Ons kantoor het die afgelope tyd heelwat navrae ontvang oor die formaat van egskeidingsbevele wat tydens die registrasie van huwelike aanvaar word as bewys van egskeiding. Hieroor het die Departement van Binnelandse Sake (DBS) se hoofkantoor in Pretoria verlede week (na verskeie navrae) reageer. Weens probleme met vervalsings en bedrog, moet alle egskeidingsbevele wat na 2006 uitgereik is, oor die volgende kenmerke beskik:


Oor egskeidings wat van voor 2006 dateer, is die DBS effe onduidelik oor presies wat die departement van huweliksbevestigers verwag.


Egskeidingsbevele wat voor 2006 uitgereik is, het blykbaar nie almal al die bogenoemde kenmerke vertoon nie. Daarom is dit belangrik dat ID-afskrifte saam met die res van die dokumentasie ingedien word vir die registrasie van huwelike waar een of albei partye geskei is. Gelukkig is dit reeds ons gebruik om ID-afskrifte in te dien.


By “Opmerkings” in die huweliksregister word ingeskryf dat byvoorbeeld die man geskei is. Die verwysingsnommer van die hooggeregshofbevel word dan ook volledigheidshalwe daar ingeskryf.


Weereens geld die goue reël: huweliksbevestigers word aangemoedig om die verhouding met hulle plaaslike DBS-kantoor so goed moontlik uit te bou om enige vrae en onduidelikhede dan maklik daar plaaslik tot almal se bevrediging uit te klaar.


2. Oor die bevestiging van huwelike óór provinsiale grense in Suid-Afrika het ons ook navrae ontvang. Die DBS bevestig nou weer dat, in terme van Artikel 3 van die Huwelikswet (Wet 25 van 1961) huweliksbevestigers aangestel word met die bevoegdheid om huwelik binne die grense van die Republiek van Suid-Afrika te bevestig. Dit is wel belangrik om te onthou dat die dokumentasie van enige huwelik ingehandig moet word by die kantoor waar jy as huweliksbevestiger geregistreer is en nie in ’n ander provinsie nie. In ons aanvanklike samesprekings met die DBS twee jaar gelede, is mondelings aan ons meegedeel dat 'n huweliksbevestiger die huwelik van twee Suid-Afrikaanse burgers op enige plek (in die wêreld) kan voltrek (let wel, albei partye moet oor 'n SA-identiteitsdokument beskik), solank die HB die register-dokumente by die kantoor inhandig waar sy/haar lêer gehou word (maw, jou DBS-kantoor). Dit mag dus wys wees om die naam van die plek waar die huwelik voltrek is, so bekend as moontlik te hou – die naaste bekende dorp en nie die naam van die plaas of die kampterrein, of iets dergeliks nie.


Dr Ben du Toit

Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap

Huwelike Buitelanders en Weduwees/Wewenaars/Geskeides

2012-08-22

Alle Eksterne Kerklike Huweliksbevestigers


Belangrik!

In ons jongste samesprekings en onderhandelinge met die Departement van Binnelandse Sake (DBS) in Pretoria op 25 Julie 2012 is daar met die Departement ooreengekom om die volgende inligting/reëlings in verband met die bevestiging van huwelike deur eksterne huweliksbevestigers te kommunikeer.


Hierdie vergadering is ook gekenmerk deur 'n herbesoek aan die beginsels waarvolgens eksterne huweliksbevestigers (soos kerklike huweliksbevestigers) deur die Departement (staat) aangestel word (of amptelik bemagtig word) om huwelike in terme van Wet 25 van 1961 te bevestig. In ons nadenke hieroor moet daarop gelet word dat


1. ons nou ’n nuwe fase betree het. Die verhouding tussen staat en kerk word met die aanvang van ons nuwe grondwetlike bedeling ook herbesoek in terme van hierdie funksie wat die kerk verrig.


2. die huwelikswet heelwat amendemente beleef het, met ander woorde: daar is in die afgelope aantal jare heelwat wysigings aan die wet aangebring om dit in terme van twee ander wette, naamlik die Wet op Tradisionele Verbintenisse (Customary Marriages Act 120 of 1998) en die op Burgerlike Verbintenisse (Civil Union Act 17 of 2006) met mekaar te sinchroniseer. Terloops, maar NB: Ons as predikante van die NG Kerk is geregistreer as huweliksbevestigers in terme van die Huwelikswet van 1961 (No 25) alleen. Nie een van ons kan daarom Burgerlike Verbintenisse of Gewoontehuwelike voltrek nie.


3. die term “eksterne huweliksbevestigers” in onderskeiding van “interne huweliksbevestigers” nou 'n belangrike punt van kommunikasie is: Die DBS het heelwat meer amptenare in plaaslike kantore aangestel en bemagtig as interne huweliksbevestigers. Maw, die term “om voor die landdros te trou” is eintlik nog slegs 'n tegniese aanduiding. Landdroste (of soos hulle nou genoem word, Voorsittende Beamptes) bevestig selde self huwelike, maar hierdie reg word na amptenare van die hof/Buitelandse Sake “afgewentel” wat op 'n daaglikse basis, soos deur die plaaslike kantoor van DBS gereël, huwelike bevestig.


4. Kerklike huweliksbevestigers, nou as eksterne huweliksbevestigers beskou, word deur hulle kerk/denominasie aanbeveel vir registrasie – om hulle in staat te stel om, as deel van hulle ampspligte, hulle lidmate in 'n verbintenis te bevestig wat eweneens deur die staat erken word.


5. Die veronderstelling by punt 4 hierbo is dat kerklike huweliksbevestigers slegs regsgeldige verbintenisse sal fasiliteer waar EEN of ALBEI van die partye wel lidmate van die eksterne huweliksbevestiger se eie kerklike denominasie is deur wie hy/sy vir registrasie aanbeveel is. Die registrasie as kerklike huweliksbevestigers deur die staat moet dus as 'n vergunning gesien word vir predikante/pastore/priesters om hulle EIE lidmate meer omvattend te bedien wat alle aspekte van die lewe betref. Natuurlik help

hulle hierin ook die staat om druk op huweliksbevestiging van SA Burgers vir die staat te Verlig.


6. Bogenoemde beteken alles saam dat dit vanselfsprekend is dat slegs diegene met predikantsbevoegdheid as huweliksbevestigers geregistreer kan wees. Indien ’n predikant dus sy/haar bevoegdheid as predikant verloor (om watter rede ook al), gaan die Algemene Bevoegdheidsraad (ABR) in die toekoms ook die DBS in kennis te stel van die betrokke huweliksbevestiger se deregistrasie. In so ’n geval moet alle dokumente (register ensovoorts) aan die DBS terugbesorg word.


Vanuit bogenoemde vertrekpunte is dit belangrik om nou te let op die volgende reëlings vir die bevestiging van huwelike wat deur kerklike huweliksbevestigers nagekom moet word:


1. Buitelanders:

Eksterne (kerklike) Huweliksbevestigers word voortaan versoek om NIE meer 'n huwelik te bevestig waar een, of albei van die persone/partye nie oor Suid- Afrikaanse burgerskap (ID) beskik nie. Die rede hieroor is sodat die staat bo alle twyfel kan vasstel dat die buitelander wél trouwaardig is (byvoorbeeld, nie steeds getroud is nie) en die verkryging van hierdie inligting deur middel van ambassades en staats-instellings van ander lande nie na wense funksioneer nie. Daar moet ook (deur die staat) vasgestel word of die nie-Suid-Afrikaner wettig in die land is, oor die nodige werkspermit/visum beskik, ensovoorts.


Daar kan nie meer op die eerlikheid van individue deur middel van beëdigde verklarings staatgemaak word nie. Dit is alles maatreëls wat noodsaaklik is om korrupsie en vervalsings aan bande te lê – ook die onregmatige verwerwing van domisilie en burgerskap in Suid-Afrika deur buitelanders deur middel van 'n gerieflikheidshuwelik wat aangegaan word. Laasgenoemde is tans 'n ernstige probleem met die invloei van duisende burgers van ander Afrika-lande na Suid-Afrika.


2. Weduwees/Wewenaars/Geskeides:

Dit is BAIE belangrik om vas te stel of die persone wat in die huwelik bevestig gaan word, wél trou-waardig is. Terwyl daar nou van die veronderstelling uitgegaan word dat beide partye Suid-Afrikaanse burgerskap

het, rus die onus op die huweliksbevestiger om seker te maak dat hy/sy nie iemand in die huwelik bevestig wie se amptelike status nog steeds dié van 'n getroude persoon is nie.


Daar is maklike maniere om iemand se huwelikstatus na te gaan. Dit kan by www.dha.gov.za/marital_status.asp gedoen word deur middel van ’n ID-nommer. So nie, stuur ’n SMS met “M + ID-nommer van bruid/bruidegom” na 32551. Dit is ‘n vinnige en doeltreffende diens en ‘n antwoord word binne sekondes verkry.


In alle gevalle moet skriftelike bewys nagegaan word (egskeidingsbevel; doodsertifikaat) en fotostate daarvan moet saam met die huweliksregister-vorms aan die DBS oorhandig word. Indien dit egter sou blyk (of deur die elektroniese navraag, of by gebrek aan dokumentasie) dat die amptelike status van iemand steeds as “getroud” aangedui word, moet die registrasie van die dood van die eggenoot of eggenote, of die registrasie van egskeiding eers by die DBS gedoen word, alvorens met die voltrekking van die huwelik

voortgegaan word.


Dit is om hierdie rede dat voornemende huwelikspare vroegtydig vir hierdie prosedures sal aanmeld vir die voltrekking van hulle huwelik. Dikwels lê die fout by die kommunikasie tussen die Departement van Justisie en die DBS. Die voornemende paartjie moet daarom by hulle naaste DBS-kantoor gaan aanklop om hulp in hierdie verband.


3. Huwelike in die buiteland:

Indien 'n kerklike huweliksbevestiger gevra word om 'n huwelik in die buiteland te voltrek, is daar die volgende moontlikhede:


a. Waar albei partye Suid-Afrikaanse burgers is, kan hulle na die SA-Ambassade gaan waar daar iemand sal wees wat hulle huwelik as Suid-Afrikaners amptelik kan bevestig. Die predikant kan dan volgens eie oortuiging en kerklike reëlings steeds 'n kerklike huwelikseremonie hou soos deur die huwelikspaar versoek, uiteraard dan, sonder om die huwelik amptelik te laat registreer


b. Die huweliksbevestiger kan om spesiale bemagtiging aansoek doen by die DBS vir ’n eenmalige permit om 'n huwelik van Suid-Afrikaners in die buiteland te bevestig. Hierdie aansoek kan nie by die plaaslike kantoor gedoen word nie, slegs die DBShoofkantoor in Pretoria is by magte om hiermee te help. Dit skakel dan wel die noodsaaklikheid van die betrokkenheid van die SA-Ambassade uit – en sou veral kon werk waar daar in die ander land nie 'n ambassade is nie.


c. Die huwelik kan eers amptelik binne Suid-Afrika voltrek word met nakoming van al die voorwaardes, terwyl daar dan daarna 'n addisionele kerklike seremonie in die verlangde plek in die buiteland gehou kan word. Sulke kerklike seremonies berus uit en uit by die kerk in terme van interne reëls daaroor.


d. Waar een, of albei van die partye, nie Suid-Afrikaanse burgers is nie, moet hulle eers hulle huwelik laat voltrek in terme van die land waarin hulle hul bevind, voordat die SA-huweliksbevestiger 'n eie (kerklike) huwelikseremonie soos aangevra, hou. (Uiteraard, sonder om die huwelik ook/weer amptelik te registreer In alle gevalle geld die reëling oor persone wat nie oor 'n SA-identiteitsdokument beskik nie soos in punt 1 hierbo beskryf, ongeag waar die huwelik mag plaasvind.


Dankie vir almal se samewerking in hierdie verband.

Vriendelike groete.


Dr Ben du Toit

Publieke Getuienis

Belangrike algemene inligting

4.1 ’n Huwelik is wettig vanaf die oomblik dat die huweliksregister ten tyde van die seremonie deur die vyf persone (egpaar, twee getuies en HB) – die minimum aantal wat teenwoordig moet wees -  onderteken is.


4.2 Slegs persone met predikantsbevoegdheid kan permanente HB’s wees. Proponente kan vir tydelike lisensies aansoek doen. Laasgenoemde saak berus by die Algemene Sinode Taakspan Regte (ATR) vir uitklaring en hantering (Hierdie saak sal weer deur die Parlementêre Lessenaar onder die aandag van die ATR gebring word.)  


4.3 Emeritus predikante wat na aftrede hulle lisensie as HB’s wil behou, moet deur middel van die betrokke sinodale kantore daarvoor aansoek doen.


4.4 HB’s is in alle gevalle daarvoor verantwoordelik om hulle persoonlike besonderhede by sinodale kantore, asook soos van toepassing by die DBS, op datum te hou.


4.5 Dit is goeie gebruik om in elk geval afskrifte/duplikate van alle dokumente wat by die DBS ingehandig word, te hou saam met die kwitansievorm.


29 Julie 2010

Voortvloeiend uit hierdie dokument (Circular 12 of 2010 rakende die “amended procedure for the solemnization of marriages and the handling of marriage registers”)  wil ons (saam met die DBS) bevestig dat die ou huweliksregisters nog steeds geldig is. Eers wanneer HB’s se register vol is, kan hulle 'n nuwe een bekom by die kantoor waar hulle gewoonlik hulle afskrifte indien. Die DBS se opdrag aan hulle kantore is om eers die ou voorraad uit te werk voordat die nuwe een aan HB’s oorhandig word.